Wanneer laas het jy regtig by jouself ingeklok?
Tell me, what is it you plan to do with your one wild and precious life?
– Mary Oliver
Baie van ons leef op ’n manier wat sin maak, maar nie noodwendig reg voel nie. Ons doen wat verwag word. Ons hou dinge aan die gang. En iewers langs die pad raak die lewe iets waarvan ons sê “Dis oukei”, of “Dis maar hoe dit is”. Ons lewe word iets wat ons verduidelik of verdedig, eerder as iets wat ons bewustelik kies.
Ek sien dit te dikwels. Mense dink hulle is vasgeval omdat hulle nie weet wat om volgende te doen nie. Maar dikwels is dit nie ’n gebrek aan antwoorde nie. Dis ’n gebrek aan belyning. Hulle leef nie meer naby genoeg aan wie hulle is nie.
Hierdie manier van lewensontwerp begin nie met groot doelwitte of planne nie. Dit begin met ’n eenvoudiger, eerliker vraag: leef ek in lyn met myself?
Ek het onlangs weer Suzy Welch se boek Being You gelees en herwaardering daarvoor gevind. Sy sê dit kom neer op drie dinge:
- Wat is vir my regtig belangrik, nie in teorie nie, maar in my daaglikse keuses?
- Hoe werk ek van nature, waar kry ek energie en waar verloor ek dit?
- En hoe kan my lewe vorm aanneem in die werklike wêreld, sonder om myself voortdurend te verlaat?
Wanneer hierdie dinge uit lyn raak, voel selfs ’n “goeie” lewe swaar. Jy raak moeg op ’n manier wat rus nie regmaak nie. Jy begin twyfel aan jouself, of wonder hoekom jy nie meer dankbaar voel nie. Niks is noodwendig verkeerd nie, maar iets is nie meer eg nie.
Wat help, is nie nog druk om te verander nie, maar die bereidheid om eerlik te kyk. Om stadiger te raak. Om weer te luister.
As iets hier aan jou raak, nooi ek jou om dit nie net te lees nie, maar te doen. Gaan sit met ’n pen en papier. Vra jouself waar jou lewe tans uit lyn voel. Skryf oor wat jou regtig saak maak. Let op waar jy energie kry, en waar jy jouself forseer. En vra jouself, sonder om dadelik antwoorde te soek: wat vra my lewe nou van my?
Jy hoef nie alles op te los nie. Jy hoef net weer by jouself in te klok.
Die res volg dikwels vanself.
Hier is ’n aantal “prompts” wat jy kan benut. Jy hoef nie alles te doen nie. Kies die vrae wat aan jou bly haak.
Vir stilword en eerlik kyk
- Op hierdie oomblik in my lewe voel ek die meeste spanning rondom …
- Iets wat ek al lank vermy om vir myself te erken, is …
- As ek nie my lewe hoef te verduidelik aan enigiemand nie, sou ek erken dat …
- Waar probeer ek tans “reg lyk” eerder as reg leef?
Vir belyning en waarheid
- Wanneer voel my lewe eg en lig, al is dit nie maklik nie?
- Wat tap my energie op ’n manier wat nie meer sin maak nie?
- Watter deel van my lewe voel soos ’n kompromie wat te duur geraak het?
- Wat in my lewe verdedig ek instinktief teen kritiek?
Vir waardes
- Ek raak die vinnigste gefrustreerd wanneer …
- Ek beskerm hierdie een ding, selfs al kos dit my iets …
- As ek net drie dinge ernstig kon opneem in my lewe, sou dit wees …
- Wanneer het ek laas gevoel: “hier leef ek reg”?
Vir aanlegte en energie
- Aktiwiteite waar ek tyd vergeet, selfs wanneer dit moeilik is, is …
- Dinge waarin ek bekwaam is maar wat my leeg laat, is …
- Ek funksioneer die beste wanneer my dae meer … is
- Ek voel myself wanneer ek kan …
Vir lewensrigting
- As ek my lewe oor drie jaar sou herken as my eie, sou dit anders lyk deurdat …
- Wat hoop ek nie verander nie, selfs al verander alles?
- Watter afruiling is ek bereid om te maak, en watter nie meer nie?
- As ek eerlik is, wil ek meer van … en minder van …
Vir integrasie
- Wat in my lewe vra nie vir ’n oplossing nie, maar vir erkenning?
- Wat sou verander as ek myself ’n bietjie meer ernstig opneem?
- ’n Klein skuif wat groot verskil kan maak, is …
- Op hierdie stadium van my lewe, vra getrouheid aan myself dat ek …
En, laastens
- “As ek regtig in lyn met myself wil leef, dan beteken dit dat ek …”
Moenie skryf om ’n plan te maak nie. Skryf om te hoor wat reeds daar is.
Die doel is nie om jou lewe te verander nie, maar om dit (weer) raak te sien.
Suzy Welch is nie ’n tipiese selfhelp-skrywer nie. Sy is ’n professor in bestuurspraktyk by NYU Stern, met ’n agtergrond in joernalistiek, sakewêreld en akademiese navorsing. Vir meer as vyftien jaar werk sy met mense wat op papier suksesvol is, maar innerlik onseker of uit lyn voel. Haar werk fokus nie op hoe om meer te bereik nie, maar op hoe om met groter integriteit te leef.
Haar boek, Becoming You, het ontstaan uit ’n universiteitskursus wat sy geskep het omdat sy self vasgeloop het by die vraag: “Wat moet ek met my lewe doen?” Die boek is dus nie teoreties of spekulatief nie. Dit is die resultaat van jare se werk met studente, professionele mense, loopbaanskuifmakers en mense in lewensoorgange.
Wat die boek anders maak, is dat dit nie probeer om jou gelukkiger, meer suksesvol of meer gemotiveerd te maak nie. Welch sê reguit: dit gaan nie oor geluk nie, maar oor rigting. Die kernvraag is nie “wat wil ek hê?” nie, maar “wie is ek wanneer ek eerlik is, en leef ek daarvolgens?”
Die metode in die boek werk met drie dinge wat sy glo altyd saam besluit hoe ’n mens se lewe vorm aanneem: jou waardes, jou aanlegte en jou ekonomies lewensvatbare belangstellings. Deur hierdie drie areas helder te ondersoek, kry mense nie net insig nie, maar verligting. Baie ontdek nie dat hulle drasties moet verander nie, maar dat hulle hulself moet toelaat om te wees wie hulle reeds is.
Becoming You is dus minder ’n boek wat jou vertel wat om te doen, en meer een wat jou help om op te hou om teen jouself te leef. Dit gee taal vir innerlike spanning, strukture vir eerlike keuses, en ’n manier om jou lewe te ontwerp sonder selfverraad.
Gerhard Bothma