Moenie vir jouself jok nie
Moenie vir jouself jok nie
"Бо́льше всего́ не лги́те сами́ себе́."
"Bo alles, moenie vir jouself jok nie."
– Fjodor Dostojefski
Ons almal dink ons is eerlike mense.
En waarskynlik is ons.
Min mense staan soggens op met die doel om ander doelbewus te mislei. Ons probeer eerlik wees. Ons wil die waarheid praat. Ons wil graag glo dat ons die wêreld sien soos dit werklik is.
Daar is 'n moeilike vraag:
Hoe weet jy wanneer jy vir jouself jok?
Dit klink na 'n morele vraag, maar moderne neurowetenskap wys dat dit eintlik 'n wetenskaplike vraag is.
Die grootste leuens wat ons vertel, is dikwels nie dié wat ons vir ander vertel nie. Dit is die stories wat ons vir onsself vertel.
"Ek is nou maar so."
"Dis nie my skuld nie."
"Ek het nie 'n keuse nie."
"Ek sal gelukkig wees wanneer..."
Die merkwaardige is dat hierdie stories gewoonlik nie doelbewuste leuens is nie. Ons glo hulle. Hulle voel waar. Daarom is selfmisleiding so moeilik om raak te sien.
Jou brein sien nie die wêreld nie
Een van die belangrikste ontdekkings van moderne neurowetenskap is dat jou brein nooit die wêreld direk ervaar nie.
Hy ontvang liggolwe, klankgolwe, chemiese seine en inligting vanaf miljoene sensoriese reseptore. Uit hierdie rou data bou hy binne millisekondes 'n verstaanbare wêreld.
Met ander woorde, ons leef nie direk in die werklikheid nie.
Ons leef met die beste huidige begrip wat ons brein van die werklikheid kon bou.
Dit beteken nie die werklikheid bestaan nie.
Inteendeel.
Dit beteken die werklikheid maak juis saak omdat ons begrip daarvan altyd voorlopig is.
Die kaart is nie die landskap nie
Daar is 'n eenvoudige beeld wat ons help om dit te verstaan.
Dink aan 'n kaart van Suid-Afrika.
Geen kaart wys elke boom, rivier, huis of klip nie. 'n Kaart vereenvoudig. Hy laat baie dinge weg en beklemtoon ander.
Jou brein werk presies so.
Hy bou voortdurend 'n kaart van die wêreld.
Die kaart is noodsaaklik. Sonder hom sou ons nie mense herken, taal verstaan of besluite kon neem nie.
Dit laat ons egter met 'n probleem...
Geen kaart ís ooit die landskap nie.
Wanneer ons vergeet dat ons met 'n kaart werk, begin ons glo ons huidige begrip is die werklikheid self. En dit is dikwels waar selfmisleiding begin.
Waarom vertel die brein stories?
Die antwoord is verrassend eenvoudig.
Ons brein het nie in die eerste plek ontwikkel om perfekte waarheid te ontdek nie.
Hy het ontwikkel om ons aan die lewe te hou.
Vir honderdduisende jare moes mense binne sekondes besluit of iets gevaarlik is.
Stel jou voor jy stap deur die grasveld en hoor skielik 'n geritsel.
Is dit net die wind?
Of is dit 'n luiperd?
As jou brein eers al die beskikbare bewyse moes versamel voordat hy reageer, sou jy waarskynlik nie lank oorleef het nie. Evolusie het dus nie 'n brein bevoordeel wat altyd honderd persent akkuraat was nie, maar een wat vinnig genoeg kon besluit.
Dit was veiliger om tien keer verniet vir die wind weg te hardloop as om een keer verkeerd te wees wanneer dit wél 'n roofdier was.
Daarom is ons brein geneig om patrone raak te sien, selfs wanneer daar nie noodwendig patrone is nie. Michael Shermer noem dit patternicity: die neiging om betekenisvolle patrone in toevallige of onvolledige inligting te sien.
Maar ons gaan nog verder. Ons gee dikwels daardie patrone ook 'n handelende oorsaak. Die geritsel is nie bloot beweging nie; iemand of iets veroorsaak dit. Shermer noem dit agenticity: die neiging om bedoeling, wil of 'n handelende agent agter gebeure te veronderstel.
Albei hierdie vermoëns was waarskynlik uiters waardevol vir oorlewing. Hulle het ons gehelp om vinnig op moontlike gevaar te reageer. Maar dieselfde meganismes werk vandag steeds. Ons sien maklik patrone waar daar bloot toeval is. Ons skryf bedoelings aan ander mense toe wat hulle nooit gehad het nie. Soms sien ons selfs onsigbare agente waar daar geen is nie.
Ons brein is dus nie net 'n patroonherkenner nie; hy is ook ’n voorspeller en 'n patroonverteller. Hy bou stories wat die wêreld vinnig verstaanbaar maak. Die probleem ontstaan wanneer ons daardie stories met die werklikheid verwar.
Daardie oorlewingsmeganisme leef vandag steeds in ons.
Ons vorm vinnig eerste indrukke.
Ons vul gapings in.
Ons sien patrone.
Ons interpreteer ander mense se bedoelings.
Ons brein bespaar ook voortdurend energie deur gewoontes, kortpaaie en voorspellings te gebruik. Hy bou 'n stabiele verhaal oor wie ons is en probeer onsekerheid verminder.
Stories is dus nie 'n fout van die brein nie.
Stories is een van sy belangrikste gereedskap.
Die probleem ontstaan wanneer ons vergeet dat dit stories is.
Jy is nie klaar nie. Jy word.
Nog 'n belangrike insig uit moderne wetenskap is dat identiteit nie 'n vaste toestand is nie.
Vir lank het mense gedink persoonlikheid is iets wat min verander.
Vandag weet ons dat nuwe ervarings, verhoudings, leer, slaap, beweging, voeding en selfs die manier waarop ons aandag gee, voortdurend neurale netwerke beïnvloed.
Ons is minder 'n afgehandelde produk as 'n dinamiese proses.
Die mens is minder 'n selfstandige naamwoord as 'n werkwoord.
Ons word.
Elke dag is ons in wording.
Betekenis word nie ontdek nie
Vir eeue het mense betekenis gesoek.
In godsdiens.
In sukses.
In werk.
In liefde.
In die hoop dat daar een groot antwoord bestaan wat uiteindelik alles sin sal maak.
Maar neurowetenskap, kognitiewe wetenskap, evolusionêre biologie en eksistensiële filosofie wys op iets anders.
Betekenis wag waarskynlik nie iewers vir ons nie.
Dit ontstaan wanneer ons onderskei wat saak maak, verantwoordelik optree en eerlik aan die werklikheid deelneem.
Ons ontdek nie betekenis nie.
Ons vorm dit.
Ons gee betekenis.
Ons skep of bou, dra en deel betekenis.
Die moed om jou kaart te verander
Wetenskap is nie bloot 'n versameling feite nie.
Dit is 'n houding.
'n Bereidheid om te sê:
"Volgens my huidige begrip lyk dit só."
"...maar ek is bereid om my mening te verander as die werklikheid iets anders wys."
Dalk behoort dit ook ons lewenshouding te wees.
Nie om voortdurend aan onsself te twyfel nie, maar om voortdurend leerbaar te bly.
Intellektuele eerlikheid beteken nie jy is altyd reg nie.
Dit beteken jy respekteer die werklikheid genoeg om jou begrip daarvan gereeld te hersien.
'n Persoonlike gedagte
Hoe ouer ek word, hoe minder glo ek dat wysheid beteken om al hoe meer antwoorde te hê.
Ek vermoed wysheid lyk eerder soos iemand wat nuuskierig bly. Iemand wat kan sê: "Ek het dalk verkeerd gekyk." Iemand wat bereid is om sy kaart weer langs die landskap neer te sit.
Dostojefski se woorde klink vandag vir my meer relevant as ooit:
"Бо́льше всего́ не лги́те сами́ себе́."
"Bo alles, moenie vir jouself lieg nie."
Want wanneer ons ophou om vir onsself te jok, gebeur iets merkwaardigs.
Ons probeer nie meer net reg wees nie.
Ons begin leer.
Ek glo al hoe meer dít is dalk die begin van wysheid.
Gerhard Bothma