Lééf terwyl jy leef: Hoe om gelukkiger te wees en betekenis te skep
Ons leef dikwels asof ons tyd oneindig is, en tog glip ons lewens by ons verby. Navorsing en antieke wysheid stem saam: die probleem is nie dat die lewe kort is nie, maar dat ons dit verkeerd gebruik.
Seneca stel dit amper tweeduisend jaar gelede in sy werk On the Shortness of Life reeds duidelik: die lewe is lank genoeg, maar ons mors dit deur dit te vul met onbelangrike dinge. Vandag sien ons dit oral. Sommige mense jaag konstant sukses, werk en prestasie na, maar ervaar nooit werklik hul lewens nie. Ander doen die teenoorgestelde en mors hul tyd op oppervlakkige dinge soos eindelose vermaak en sosiale media. In albei gevalle mis ons wat dit beteken om werklik te leef.
’n Belangrike insig wat uit die “geluksnavorser” Arthur Brooks se werk na vore kom, is dat geluk nie ’n enkele ding is nie, maar bestaan uit drie dele: genot, tevredenheid en betekenis. Baie mense fokus op die eerste twee, maar mis die derde. En dit is juis hier waar die kernprobleem lê.
Ons leef in ’n wêreld waar ons voortdurend aangemoedig word om plesier na te jaag. Tog is plesier tydelik en oppervlakkig. As dit nie gedeel, onthou en geïntegreer word nie, bly dit leeg. Ware genot ontstaan wanneer ons bewustelik betrokke raak by ons ervarings en dit met ander deel.
Tevredenheid bring ’n ander soort vervulling. Dit kom deur moeite, deur stryd, deur groei. Maar selfs dit hou nie vanself nie. Ons bereik doelwitte en ervaar dan dikwels ’n vreemde leegheid. Ons brein is nie gemaak vir aankoms nie, maar vir beweging. Daarom skuif die doelwitte aanhoudend. Meer sukses, meer erkenning, meer prestasie. En tog bly iets kort.
Dit is waarom soveel mense hulself verloor in vals beloftes van geluk: geld, mag, plesier en roem. Hierdie dinge lyk soos betekenis, maar is dit nie. Hulle gee die gevoel van betekenis, maar kan dit nie dra nie. Wanneer dit sentraal raak, begin dit ons beheer eerder as wat ons dit bestuur.
Die kern van alles is uiteindelik liefde. Geluk is nie bloot ’n emosie nie, maar die gevolg van verhoudings. As ons nie liefhet en nie toelaat dat ons liefgehê word nie, bly ons afgesny van betekenis. Dit vra moed, want liefde bring pyn en teleurstelling. “Die liefde is meedoënloos. Dit maak jou stukkend. Dit maak jou broos”, sing Coenie de Villiers tereg. Tog is hierdie seer nie ’n fout nie, maar deel van ’n lewe wat werklik geleef word. Sonder risiko is daar geen ware verbondenheid nie.
Ons kan ook nie ons eie sterflikheid ignoreer nie. Ons leef dikwels asof ons onbeperkte tyd het, maar dit is nie waar nie. Wanneer ons besef dat ons tyd beperk is, verander ons aandag. Wat voorheen onbelangrik gelyk het, word kosbaar. Hierdie besef help ons om meer bewus en doelgerig te leef. Memento mori, is ons voorsate geleer: onthou dat jy gaan sterf en lééf nou.
Ware rus beteken daarom nie om niks te doen nie, maar om ruimte te maak vir wat saak maak: verhoudings, jou diepste oortuigings, geloof of waardes, en om te leer. Dit is nie luiheid nie, maar ’n noodsaaklike heroriëntasie van ons lewens.
Een van die groot probleme van ons tyd lê egter nog dieper. Baie van ons het grootgeword met die idee dat betekenis vir ons gegee word. Deur ’n God, deur tradisie, deur opvoeding... Maar hierdie raamwerk dra nie meer vanself nie. Vir baie mense het dit sy krag verloor. Wat oorbly, is nie net onsekerheid nie, maar ’n vakuum.
Hier is die skuif wat nodig is: om te besef dat betekenis nie iets is wat ons vind of ontvang nie, maar iets wat ons skep. Ons wag nie vir betekenis om aan ons gegee te word nie. Ons gee betekenis deur hoe ons leef, kies en liefhet.
Dit is my lewe. Ek wil leef terwyl ek leef.
Hierdie besef is die begin van agentskap. Maar dit plaas ons ook binne ’n groter geheel. Om betekenis te skep is nie ’n geïsoleerde daad nie. Dit gebeur in verhouding: tot ander mense, tot die samelewing, tot die wêreld self.
Eietydse neurowetenskappe en bewussynstudies bevestig hierdie insig. Ons is nie bloot wesens wat reageer op die wêreld nie, maar wesens wat dit interpreteer en orden. Wat ons as belangrik raaksien, word nie net ontdek nie, maar gevorm.
John Vervaeke beskryf dit as relevance realization – die vermoë om te onderskei wat werklik saak maak. Ons ervaar nie die wêreld soos dit objektief is nie, maar in verhouding tot die model wat ons brein voortdurend vorm en aanpas. Betekenis lê nie bloot in dinge self nie, maar ontstaan in hierdie dinamiese wisselwerking tussen ons en die wêreld. Hierdie proses rig ons aandag, vorm ons emosies en stuur ons gedrag.
Maar hier lê ook ’n groot gevaar van ons tyd. Ons leef in ’n wêreld van konstante afleiding. Tegnologie gee ons aanhoudend klein belonings, hou ons besig en help ons om verveling te vermy. Tog is verveling juis die ruimte waarin ons weer kan leer sien, onderskei en betekenis vorm. Wanneer ons dit voortdurend ontvlug, begin ons ons lewens mis.
Verder is ons biologies geneig tot ondankbaarheid. Ons brein fokus op wat ontbreek, nie op wat daar is nie. Dit help ons oorleef, maar dit maak ons ook rusteloos en ontevrede. Daarom moet dankbaarheid doelbewus beoefen word. Dit is nie ’n gevoel wat vanself kom nie, maar ’n praktyk waardeur ons weer leer om waarde raak te sien en toe te ken.
Nog ’n belangrike insig is dat geluk nie beteken om negatiewe emosies te vermy nie. Inteendeel, ’n volle lewe sluit ook hartseer, angs en ongemak in. Sonder dit is daar geen diepte nie, en sonder diepte is daar geen betekenis nie.
Betekenis kan egter konkreet verstaan word. Dit rus op drie fundamentele vrae:
Waarom doen ek wat ek doen?
Waarom gebeur dinge soos dit gebeur?
Waarom maak my lewe saak?
Wanneer ons nie meer hierdie vrae kan leef nie, begin ons lewens leeg voel.
Uiteindelik kom dit hierop neer: die probleem is nie dat ons nie tyd het nie, en ook nie dat ons nie kennis het nie. Die probleem is dat ons nie meer weet hoe om ons lewens rondom betekenis te vorm nie.
Om werklik te leef, beteken om weer wakker te word, nie net tot die wêreld nie, maar om deur interaksie daarin betekenis te gee, te skep en toe te ken aan dit wat ons ontmoet.
Wanneer dít alles gesê is, is die uitdaging eenvoudig maar veeleisend: ons moet ophou om ons lewens te mors. Nie deur harder te werk of meer te verbruik nie, maar deur ligter en voller – gelukkiger – te leef, lief te hê en betekenis te bou. Dan kan ons sê dat ons nie net bestaan nie – dat ons nie net besig is of goed voel nie – maar werklik leef.
Bibliografie
Barrett, L. F. (2017). How emotions are made: The secret life of the brain. Houghton Mifflin Harcourt
Brewer, J. A. (2017). The craving mind: From cigarettes to smartphones to love – Why we get hooked and how we can break bad habits. Yale University Press
Brooks, A. C. (2023). From strength to strength: Finding success, happiness, and deep purpose in the second half of life. Portfolio
Damasio, A. (2018). The strange order of things: Life, feeling, and the making of cultures. Pantheon Books
Frankl, V. E. (2006). Man’s search for meaning. Beacon Press (Original work published 1946)
Hanson, R. (2013). Hardwiring happiness: The new brain science of contentment, calm, and confidence. Harmony
Kahneman, D. (2011). Thinking, fast and slow. Farrar, Straus and Giroux
McGilchrist, I. (2009). The master and his emissary: The divided brain and the making of the Western world. Yale University Press
Panksepp, J. (1998). Affective neuroscience: The foundations of human and animal emotions. Oxford University Press
Santos, L. R. (2019). The science of well-being [Online course]. Yale University
Seneca. (2005). On the shortness of life (C. D. N. Costa, Trans.). Penguin Classics (Original work published ca. 49 AD)
Seth, A. (2021). Being you: A new science of consciousness. Dutton
Vervaeke, J. (2026). Relevance realization and consciousness [Unpublished manuscript]
Vervaeke, J., & Mastropietro, C. (2024). Awakening from the meaning crisis: Book one – Origins. Story Grid Publishing
Wood, W. (2019). Good habits, bad habits: The science of making positive changes that stick. Farrar, Straus and Giroux
Gerhard Bothma