Groei en floreer
Hoe dikwels voel jy aan die einde van ’n dag asof jy deur alles gegaan het, maar min daarvan regtig beleef het? Asof die lewe teen ’n spoed verbyflits, en jy is gedurig net ’n tree agter? Jy is nie alleen nie. In ’n wêreld van konstante besig-wees, selfoon- en ander skerms, en eindelose “om te doen”-lysies, begin mense oral vra: Hoe kan ek voller, ryker, en meer teenwoordig leef?
Ons bestaan het ingewikkeld en versnipper geword. Die lewe is nie net besig nie, dis soms uitmergelend. En so ontstaan daar, stadig maar seker, ’n verskuiwing: ’n beweging weg van blote oorlewing en selfs van die oppervlakkige strewe na geluk op sigself. Al hoe meer mense begin vra vir iets volhoubaar, iets dieper, iets wat sin maak.
Dis in hierdie soeke dat twee kragtige benaderings mekaar vind: positiewe sielkunde en volbewus leef. Elkeen hiervan het hul eie wortels en wysheid, maar saam bied hulle ’n weg na ’n lewe van betekenis, balans en innerlike vervulling – nie vir later nie, nie vir eendag nie, maar nou. En hier.
Positiewe sielkunde, wat as akademiese rigting in die laat 1990’s momentum begin kry het, stel nie belang in wat fout is met mense nie, maar in wat moontlik is. Professor Martin Seligman, dikwels beskou as die vader van die veld, het in sy invloedryke boek Flourish die PERMA-model voorgestel: positiewe emosie, betrokkenheid, verhoudings, betekenis en prestasie. In Engels: Positive emotions, Engagement, Relationships, Meaning en Accomplishments. Vir Seligman gaan welwees nie net oor hoe goed iemand voel nie, maar oor hoe ryk hul lewe ervaar word; oor hoe vervuld hulle bestaan in terme van intensie, verbinding en selfverwesenliking.
Naas Seligman is Mihaly Csikszentmihalyi bekend vir sy baanbrekerswerk oor “vloei” (Flow: The Psychology of Optimal Experience). Hy het aangetoon hoe mense dieper geluk en bevrediging ervaar wanneer hulle volledig in ’n taak opgeneem is. Hierdie vorm van betrokkenheid, waar tyd verdwyn en selfbewustheid oplos, is een van die hoekstene van ’n sinvolle lewe.
Christopher Peterson, ’n ander invloedryke stem, het saam met Seligman die VIA Classification of Character Strengths saamgestel. Dit is ’n katalogus van 24 karaktersterktes soos empatie, integriteit en lewenslus. Dié sterktes dien as boublokke vir persoonlike groei.
Wat positiewe sielkunde besonderse betekenis verleen, is dat dit so prakties is. Oefeninge soos “drie goeie dinge” of die “dankbaarheidsbesoek” (waar jy ’n brief van waardering aan iemand skryf en dit persoonlik voorlees) het in studies herhaaldelik getoon dat dit welwees verbeter, angs verminder en selfs verhoudings versterk.
Terselfdertyd het volbewus leef, of “mindfulness”, sy eie pad gestap. Dit het ontstaan in Boeddhistiese tradisies, maar het in die Westerse wêreld momentum gekry deur die werk van veral Jon Kabat-Zinn, wat in die 1970s die Mindfulness-Based Stress Reduction-program (MBSR) aan die Universiteit van Massachusetts begin het. Sy boek Wherever You Go, There You Are het duisende mense bekend gestel aan die eenvoudige dog transformerende praktyk om met volle aandag in die hede teenwoordig te wees.
Mindfulness beteken nie dat jy probeer om jou gedagtes stil te maak nie. Dit is eerder die bewuste aanvaarding van wat is – sonder beoordeling daarvan en sonder weerstand. Jy word nie jou emosies nie, jy gee ’n tree terug en sien hulle verbygaan. Hierdie eenvoudige verandering in houding bring met verloop van tyd ’n radikale verskuiwing in hoe jy jouself en die wêreld beleef.
Wat besonder fassinerend is, is hoe moderne denkers hierdie ou praktyk begin integreer het met nuwe insigte. Ken Wilber, ’n filosoof en grondlegger van Integral Theory, het ’n meer holistiese benadering tot geestelike en persoonlike ontwikkeling ontwikkel. In sy boek Integral Meditation: Mindfulness as a Way to Grow Up, Wake Up, and Show Up in Your Life kombineer hy tradisionele meditatiewe praktyke met Westerse ontwikkelingsielkunde. Wilber onderskei tussen “Waking Up” (geestelike bewussyn) en “Growing Up” (volwassenheid in morele, emosionele en kognitiewe opsig) en meen dat albei nodig is vir ware integrasie. Volgens hom fokus die meeste spirituele tradisies net op die, en ignoreer die ander. Dit lei tot “verligte kinders,” mense met insig maar sonder emosionele rypheid.
Deur hierdie benaderings te kombineer, ontstaan daar ’n kragtige sinergie. Aandagtige volbewuswees versterk jou vermoë om teenwoordig te wees binne oomblikke van vreugde, vrees of verwondering, en leer jou om met ’n sagte innerlike ruimte te reageer. Positiewe sielkunde help jou om sin in hierdie oomblikke te vind – om dit te verbind aan jou waardes, jou sterktes, en jou diepste begeertes. Saam vorm hulle nie net ’n stel tegnieke nie, maar ’n lewensfilosofie.
Neem byvoorbeeld ’n eenvoudige praktyk: tydens die ete, sit jou foon weg, kyk regtig na jou kos, ruik dit, proe dit, en terwyl jy eet, dink aan drie mense wat daartoe bygedra het dat daardie maaltyd voor jou is. Jy is dan teenwoordig, dankbaar, en verbind. In so ’n oomblik begin jy floreer.
Ons kan nie altyd ons omstandighede beheer nie. Maar deur te leef met aandag en waardering, deur te bou op ons sterkpunte en betekenisvolle verhoudings, deur betekenis te verleen aan klein dingetjies en emosionele balans te ontwikkel, kan ons begin om nie net aan die lewe te bly nie, maar werklik te lééf.
Soos Barbara Fredrickson (skrywer van Positivity) aantoon, het positiewe emosies ’n verdiepende én verbredende effek: hulle brei ons denkpatrone uit, versterk sosiale verbindings en bou innerlike hulpbronne. En soos Kabat-Zinn sou sê: jy kan nie die golwe keer nie, maar jy kan leer om hulle te ry.
Om te floreer is dus nie ’n eindpunt wat jy bereik nie en vra nie ’n perfekte lewe nie. Dis nie ’n trofee op ’n rak of ’n toestand van volmaakte kalmte wat een dag sal aanbreek wanneer alles uiteindelik in plek val nie. Dit is ’n manier van beweeg, ’n manier van kyk, ’n manier van wees. Dis die keuse om ten spyte van onsekerheid, teenstrydighede en geraas, steeds aanwesig te bly. Oop, nuuskierig en dankbaar – ’n teenwoordige hart, ’n oop gemoed, en die bereidheid om met nuuskierigheid en deernis teenwoordig te wees; vir jouself, vir ander en vir elke oomblik.
Dit is om ’n lewe te leef wat nie net geleef word nie, maar deurvoel word. Elke asem, elke ontmoeting, elke klein daad van sorg en betekenis, is ’n geleentheid om voller mens te wees. En dalk is dit juis daar, in die alledaagse, dat die buitengewone begin.