Laat gaan en begin nuut
In liminale tye word hierdie swaar-dra egter voel- en sigbaar. Die stadiger ritme en fyner emosionele afstemming bring ’n eenvoudige, maar eerlike vraag na vore: Is dit iets wat nog leef — of iets wat ek net nie wou los nie? Laat gaan beteken nie om te ontken dat iets waardevol was nie. Dit beteken om te erken dat iets sy werk gedoen het. Dat ’n seisoen volledig was. Dat ’n hoofstuk gelees is, selfs al was dit nie net mooi nie.
Wat kom eerste: Kersfees of Nuwejaar?
Toe ek nog op skool was het ons hierdie tyd van die jaar vir mense gevra: “Wat kom eerste – Kersfees of Nuwejaar?”
Wat ook al hulle dan geantwoord het, het ons daarna gesê die ander een kom eerste. Later het ek besef dit was vir ons so prettig omdat ons gedurende daardie lewensfase die verskil tussen kalendertyd en beleefde tyd intuïtief aangevoel het, lank voordat ons woorde daarvoor gehad het. In beleefde tyd is dit binnekort Kersfees en kom Nuwejaar daarna. In kalendertyd staan 1 Januarie al meer as 300 blokkies ver in die tru-spieël.
Kalendertyd is eenvoudig. Dit tel. Dit rangskik. Dit sê vir ons: eers hierdie datum, dan daardie een. Kersfees kom voor Nuwejaar. Punt. Maar beleefde tyd werk anders. Dit buig. Dit rek. Dit raak digter. Soms kom iets emosioneel lank vóór dit op die kalender verskyn; soms bly iets by jou lank nadat die datum verby is.
Dis hoekom hierdie tyd van die jaar vir soveel mense swaar én betekenisvol voel — selfs al was daar “niks besonders” wat gebeur het nie. ’n Jaar-einde is nie bloot ’n administratiewe oomblik nie; dit is ’n neuro-emosionele gebeurtenis.
Jou brein registreer nie net datums wat verbygaan nie; dit registreer oorgange.
Wanneer die eksterne ritme stadiger raak — skole sluit, roetines breek oop, feeste en vakansies skuif die gewone orde — begin die interne ritme hoorbaar word.
Skielik vra mense vrae wat hulle in Oktober nog suksesvol kon ignoreer:
Wie was ek hierdie jaar? Wat het my gevorm? Wat dra ek nog, en wat is eintlik klaar al dink ek nog daaraan?
Neurowetenskap noem hierdie proses konsolidasie: die brein se poging om ervaring te integreer en sin te maak van wat geleef is.
Onaf stories, onaf emosies en half-verwerkte ervarings dryf na die oppervlak — nie om jou te straf nie, maar omdat jou brein afsluiting soek.
Dis ook hoekom Kersfees en Nuwejaar nie net “feesdae” is nie, maar liminale ruimtes — tussenplekke tussen “nie meer” en “nog nie”.
In sulke tye raak identiteit losser, gewoontes buigbaarder en betekenis makliker om te vorm. Jy is nie meer heeltemal wie jy was nie, maar ook nog nie wie jy gaan word nie. En juis dáár lê die moontlikheid van nuut word.
Om te laat gaan is een van die moeilikste menslike bewegings — nie omdat ons nie wíl nie, maar omdat ons breine gemaak is om vas te hou. Wat bekend is, voel veilig; wat verby is, voel voorspelbaar; selfs dit wat seergemaak het, het ten minste ’n storie wat ons ken. Daarom dra mense dikwels dinge lank nadat hulle funksie, betekenis of lewenskrag verloor het: rolle, verwagtinge, verhoudings, selfbeelde, maniere van doen wat eens gewerk het, maar nou net gewig geword het.
In liminale tye word hierdie swaar-dra egter voel- en sigbaar. Die stadiger ritme en fyner emosionele afstemming bring ’n eenvoudige, maar eerlike vraag na vore: Is dit iets wat nog leef — of iets wat ek net nie wou los nie? Laat gaan beteken nie om te ontken dat iets waardevol was nie. Dit beteken om te erken dat iets sy werk gedoen het. Dat ’n seisoen volledig was. Dat ’n hoofstuk gelees is, selfs al was dit nie net mooi nie.
Laat gaan is dus nie ’n daad van verlies nie, maar ’n daad van integriteit. Dit sê: Ek eer wat was, sonder om dit te laat besluit wat volgende kom. Wanneer jy iets bewustelik los, gee jy jou brein die afsluiting wat dit soek. Jy help dit om patrone toe te maak, energie vry te stel, en ruimte te skep vir herorganisasie. Sonder laat gaan bly die nuwe altyd ’n byvoeging; met laat gaan word dit ’n werklike begin.
Maar laat gaan vra sagtheid. Dit gebeur selde in groot gebare. Meestal gebeur dit in klein, stille keuses: om nie weer dieselfde storie te herhaal nie; om nie elke emosie te verduidelik of reg te maak nie; om te aanvaar dat iets verby is sonder om dit te herroep of te herskryf. Hierdie klein loslate is reeds beginne — nie omdat hulle alles verander nie, maar omdat hulle die rigting verander.
En hier lê die brug na nuut begin. Nuwe beginne het nie dramatiese verklarings nodig nie; hulle het aandag, ritme en betekenis nodig. Wat jy vandag aandag aan gee, begin jou brein reeds as belangrik merk. Watter gedagtes jy herhaal, watter gedrag jy effens skuif, watter gewoontes jy sag versterk — dit is die materiaal waarmee jou nuwe jaar gebou word.
Nuwer begin dus nie met meer doen nie, maar met anders kies: kies wat jy nie meer hoef saam te dra nie; kies wat jy wil voed; kies ’n tempo wat jou lewe kan dra. Want wanneer jy laat gaan wat klaar is, begin jy nie leeg nie — jy begin ligter.
Ons dink dikwels nuwe beginne gebeur op Nuwejaarsdag, met groot voornemens en dramatiese verklarings. Maar nuwe beginne begin lank vóór die klokslag reeds in die brein begin vorm.
Elke keer wat jy anders aandag gee, nuwe betekenis maak of ’n klein gedrag skuif, herskryf jou brein jou storie.
Miskien is dit hoekom daardie kinderlike speletjie oor wat eerste kom, eintlik iets diep waar aangeraak het. Want in beleefde tyd kom Kersfees en Nuwejaar nie in ’n vaste volgorde nie. Soms begin die nuwe al vóór jy behoorlik gegroet het. Soms neem afskeid lank ná die kalender aanbeweeg het.
En dalk is dit die uitnodiging van hierdie tyd:
nie om die kalender se bladsye haastig om te slaan nie,
maar om hulle sagkens te draai —
bewus van wat eindig, oop vir wat begin,
en eerlik oor waar jy jou in tyd bevind
Want nuut word begin nie met ’n datum nie,
maar met aandag.
Gerhard Bothma