Asemskep ... Ja, jy kán gelukkiger wees
Wat sê jy – is daar énige mense wat vandag “Nee” sal sê as jy hulle vra of hulle graag gelukkig wil leef? Geluk is waarskynlik een van die mees nagejaagde dinge in die moderne wêreld.
Mense soek dit in sukses, geld, verhoudings, vakansies, besittings, prestasies en soms selfs in die hoop dat die volgende groot gebeurtenis uiteindelik die ontbrekende stuk van die legkaart sal wees.
Tog wys die navorsing dat geluk nie 'n permanente emosionele toestand is nie.
Selfs wanneer goeie dinge gebeur, pas mense gewoonlik mettertyd aan. Die nuwe werk word die gewone werk. Die nuwe huis word die gewone huis. Die langverwagte doelwit word deel van die alledaagse lewe. Die menslike brein is merkwaardig goed daarin om aan te pas.
Dit beteken dat geluk kom en gaan.
Soos die weer verander emosies voortdurend. Sommige dae voel ligter. Ander dae voel moeiliker. Soms ervaar mense vreugde, dankbaarheid en tevredenheid. Op ander dae ervaar hulle teleurstelling, verlies, bekommernis of frustrasie.
Dit is nie 'n teken dat iets verkeerd is nie.
Dit is deel van menswees.
Daarom fokus moderne welstandnavorsing toenemend minder op geluk alleen en meer op welstand en floreer. Op welwees.
Daarom fokus moderne navorsing toenemend minder op geluk alleen en meer op welstand, welwees en floreer.
Hoewel hierdie begrippe dikwels deurmekaar gebruik word, verwys hulle nie na presies dieselfde dinge nie.
Welstand verwys gewoonlik na die toestand van 'n persoon se lewe op verskillende vlakke, soos fisiese gesondheid, finansiële sekuriteit, sosiale verbondenheid, veiligheid en funksionering. Dit beskryf in 'n groot mate die omstandighede en hulpbronne waaroor mense beskik.
Welwees verwys meer na die geleefde ervaring van die lewe. Dit sluit in hoe mense hulself ervaar, hoe hulle oor hul lewe dink en voel, die kwaliteit van hul verhoudings, hul gevoel van verbondenheid, hul vermoë om uitdagings te hanteer, en die mate waarin hulle hul lewe as waardevol en betekenisvol beleef.
Welwees is daarom meer as bloot goeie omstandighede. Mense kan redelike welstand hê, maar steeds leeg, rigtingloos of vervreemd voel. Omgekeerd kan mense soms te midde van moeilike omstandighede steeds 'n diep gevoel van welwees ervaar.
Die begrip floreer is deel van welwees en verwys na die vermoë om aan te hou ontwikkel, leer, groei, bydra en deel te neem aan die lewe. Floreer beteken nie dat alles altyd goed gaan nie. Dit beteken dat mense steeds besig is om hul vermoëns te ontwikkel en hul lewens aktief vorm te gee.
En hierin speel betekenis 'n sentrale rol.
Mense het nie net behoefte aan gemak, plesier en positiewe emosies nie. Hulle het ook behoefte om te verstaan hoe hulle inpas in die groter verhaal van hul lewe en hul wêreld.
Belangrik genoeg word betekenis nie bloot ontdek of ontvang nie.
Betekenis word grootliks gevorm.
Mense skep betekenis deur die stories wat hulle oor hul lewe vertel, die waardes waarvolgens hulle leef, die verhoudings wat hulle bou, die bydraes wat hulle maak en die manier waarop hulle hul ervarings interpreteer.
Dieselfde gebeurtenis kan vir twee mense heeltemal verskillende betekenisse hê.
Betekenis ontstaan dus nie net uit wat met mense gebeur nie, maar ook uit hoe hulle daarop reageer en watter plek hulle dit in hul lewensverhaal gee.
Die interessante paradoks is dat mense wat betekenisvolle lewens bou, dikwels meer geluk ervaar as mense wat geluk self probeer najaag.
Gerhard Bothma